Bly u dalk in Baillie Park?
Weet u waar die naam van die uitbreiding vandaan kom?
Nie?
Lees dan hier!
Charles Hugh Baillie, wat o.a. aan die 7th Hussars in Indië verbonde was. Hy het sy Kapteinskap ook daar verdien al het hy reeds sy plaas Vyfhoek aan die Ooste van Potchefstroom besit. Díe plaas het hy gekoop van ‘n mnr Greyling.
Met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in Desember 1880 was hy alreeds ‘n geruime tyd op sy plaas te Vyfhoek, vandag bekend as Baillies Manor. Hy was ‘n oujongkêrel en het ‘n huishoudster gehad, vir wie daar ‘n gedenksteen in die stoepmuur ingemessel is met haar naam op.
Na die oorlog, met die vrede van die 1881-1882 Vryheidsoorlog, het hy 225 van die vertrekkende Britse troepe wat vir drie maande in die fort beleër was, toegelaat om ‘n dag lank op sy plaas te kampeer. Volgens oorlewering het hy hulle van nuwe uitrustings en ander benodighede voorsien.
Met die bou van St Mary’s Anglikaanse Kerk het hy ‘n groot deel van die klip geskenk, asook ‘n bedrag van £250. Een van die pragtige gekleurde vensters in die kerk in die Oostemuur is aan hom opgedra en sy naam is daarop aangebring. Hy was een van die gereeldste kerkgangers van die nuwe kerk tot en met sy dood in 1901.
Vandag is Laerskool Baillie Park en die voorstad Baillie Park na hom vernoem, wat dan ook geleë is op ‘n gedeelte van sy plaas.
Met dank aan die Potchefstroom Museum